Jou moer Max du Preez

0
428

By Carl Niehaus

Aitsa Max, maar jy is darem ‘n ou voorbok né. Jy het sommer die oplossing vir al Suid-Afrika se probleme: Gebruik (eintlik is die beter woord misbruik) ons regstelsel om die Sekretaris Generaal van die ANC, kameraad Ace Magashule, van allerhande opgekookte vergrype aan te kla en sluit hom op in die tjoekie, sodat die President van die ANC, kameraad Cyril Ramaphosa, volgens jou, ‘n vrye hand kan hê om ons land sogenaamd te ‘red’.

Max, maar jy weet eintlik het ek het niks anders van ‘n boerseun daar vanaf Koppies in die Vrystaat verwag nie. Subtiliteit en nuanse is mos nie deel van julle manne se wese nie. Die son het julle daar tussen die ysterklippe té bothard gebak. Julle manne leef mos met ‘n hammer en knyptang in die hand. Alles wat julle nie pas nie voeter, verdraai en bliksem julle totdat dit vir julle ‘werk’. Vra maar vir werkers op die plase daar wat met hulle gebeur as hulle nie presies doen wat die wit ‘baas’ wil hê nie…Jy met jou hardgebakte houding is
nie anders nie.

So ‘baas’ Max is moerig want die ANC doen nie wat jy wil hê moet gedoen word nie? Maar ek lees jy dink jy het die oplossing in die persoon van President Ramaphosa, wie jy jouself wys gemaak het is ‘n mak swart voorman (in die suide van die VSA het hulle van ‘n “Uncle Tom” gepraat), wat gebruik kan word om die swart moeilikheid makers en opstokers vas te vat.

Die enigste probleem is dat die ‘jong’ (dis mos wat julle wit boere ‘n opgeskote swart man noem), Cyril Ramaphosa, wat julle na jul hand wou grootmaak, nou nie so lekker luister na wat julle wil hê hy moet doen nie. ‘n Probleem en frustrasie wat jy en ene Stephen Kossef klaarblyklik deel.

Dis nogal vermaaklik dat jy en Stephen nou bedmaatjies geword het, nie eintlik ‘n
kombinasie wat ‘n mens met die eerste oog op slag sou verwag het nie. Maar nou-ja, onder witmense is enige iets moontlik – solank julle mos mekaar se belange kan beskerm.

Wat julle twee sekerlik wel met mekaar in gemeen het is wit arrogansie en ‘n neersienery op, en voorskrywery aan, swart mense.

Daardie baie groter Afrikaanse skrywer-gees as jy, wat ook afkomstig van Koppies was, Ettiene le Roux, het vlymskerp in sy boek ‘Smous’ die geknoeiery tussen boereverneukers en plattelandse Joodse smouse om swart mense te bedonner en uit te buit beskryf. As ‘n mens só daaroor dink is die amper woordeliks eenderse voorskrywery van jou en Kossef aan President Ramaphosa eintlik maar net ou laai, né.

READ: MAX DU PREEZ’S ARTICLE

Ek weet jy was lank in die groot stad en dink nogal aan jouself as ‘n straatwyse man, wat nie meer ‘n plaasjapie is nie. Maar, ag tog Max, wanneer jy kaf stories soos hierdie skryf bewys jy maar net weer, ‘n mens kan die ‘baas’ vanaf die plaas wegvat, maar jy kan maar net nie die ‘baas’ uit die ‘baas’ uitkry nie …

Klaarblyklik gee jy nie ‘n duit om vir ons Grondwet, of vir behoorlike regsprosedures nie. Hoekom sou hardgebakte Max nou omgee vir iets, wat vir hom slapgat nonsies is, soos dat elke landsburger onskuldig geag moet word totdat ‘n hof hom/haar skuldig bevind het? Vir jou is kameraad Ace Magashule net ‘n lastige klip in die pad vorentoe wat jy tesame met Kossef, en die res van julle wit monopolie kapitalistiese vriende, vir Suid-Afrika voorsien, en hy moet derhalwe ten alle koste verwyder word.

Dus moet President Ramaphosa volgens julle spulletjie kop-in-een-mus, tesame met die Nasionale Aanklaer, seker maak dat kameraad Ace Magashule van ‘korrupsie’, ‘bedrog’, ‘diefstal’ en alles en nog wat aangekla word. Hoe meer, en hoe erger, des te beter, solank hy net vir maande, of selfs nog beter jare, lank in ‘n aangeklaagde bank moet gaan sit en
uit sy leierskap posisie in die ANC verwyder kan word.

READ: ENGLISH VERSION OF MAX DU PREEZ’S ARTICLE

Dis mos presies die plan wat vir President Zuma bedink was, en waarmee julle geslaag het om hom uiteindelik uit die presidensie te kry. Die enigste probleem is dat julle dit nie kan regkry om sy volgehoue ondersteuning in die land weg te kalwe nie … Die mense het nogal ‘n manier om die middelvinger vir knoeiers te wys!

Vanuit jou ongeduldigheid – gebore uit jou arrogante en ongedurige identiteit as ‘baas’ – is jy nou sommer polisieman, aanklaer, die finale outoriteit wat die Nasionale Aanklaer instruksies gee én regter ook. Kits en klaar, alles in een! Kortom: Die baas van die plaas! Mapstieks maar jy is darem ‘n regte ou bliksem – moer toe met ons konstitusionele staat en ‘n onafhanklike regbank.

READ: ENGLISH VERSION OF NIEHAUS’ REACTION

Die doel heilig mos die middele. Dis presies wat in Brazil gebeur het, waar ‘n onheilige regse koalisie van aanklaers, regters en reaksionêre politici hul grondwet verkrag het en saamgesweer het om die regstelsel te misbruik, ten einde te verhoed dat President Luiz Inacio Lula da Silva weer verkies sou word as President van Brazil.

Uiteindelik het hulle geknoeiery geboemerang en President da Silva is verlede week vry gelaat. Jy probeer in jou artikel nou dieselfde soort snert, nogal as ‘advies’, in President Ramaphosa se keel afdruk. Net soos Kossef is jy arrogant genoeg om aan President Ramaphosa te wil voorskryf wat hy moet doen, en om te dreig dat as hy nie van kameraad Magashule en ander voorstaanders van Radikale Ekonomiese Transformasie (RET), soos kamerade Supra Mahumapelo en Mosebenzi Zwane ‘ontslae raak’ nie en ook (wat jy so voorspelbaar beskryf as) die ‘Zuma-faksie’ in die ANC se Nasionale Uitvoerende Kommittee (NUK) nie ‘ontman’ nie, dan gaan die ekonomiese ‘afdraande steiler word’.

Ons wat onder apartheid gely het weet dat wanneer julle eers op dreef is, ken die
arrogansie van wit base geen perke nie. Dus het dit my nou nie juis verbaas dat jy nie eens ‘n tikkie van verleëntheid kon voel nie, maar wel al te maklik kon saamstem met Kossef dat die staat se selarisrekening drasties gesny moet word (dus dat duisende werkers afgedank moet word), en dat “groot stukke van staatsondernemings verkoop moet word aan die privaatsektor” (dus die privatisering van staatsondernemings, met meer duisende werkers wat werkloos sal word). Soos mede-‘baas’ Kossef mos laasweek vir
President Ramaphosa instruksies probeer gee het: “I don’t care whether you call it,
privatisation, or anything else. Just do it!”… Soort soek soort né…

Jy weet Max, jy was altyd ‘n arrogante en selfvoldane bliksem, maar daar was ‘n tyd in die vroeë jare van die eerste weergawe van Vrye Weekblad (nie hierdie bleek afgewaterde digitale propaganda pamflet wat jy nou weer so sinies ‘Vrye Weekblad’ noem nie), wat jy wel ‘n bietjie ruggraat gewys het in jou toenmalige versigtige opposisie teen apartheid.

Natuurlik het jy jouself nooit rêrig voluit by die ANC geskaar nie, en daar was nooit ‘n kat se kans dat jy jou lewe op die spel sou plaas vir die bevryding van jou mede swart Suid-Afrikaners nie. Dít was altyd ‘n stap veels te vêr vir jou; maar nogtans het jy jou dit aangematig om veroordelend te wees teenoor die paar wit kamerade van ons wat wél bereid was om dit te doen.

Ek onthou nog soos gister daarddie dag in Nederland, by die Universiteit van Groningen, wat jy my as die toenmalige Suid-Afrikaanse ambassadeur probeer verneder het en ‘n ‘apparatchick’ genoem het, net omdat ek ons land se ANC meerderheidsregering verdedig het, onderwyl jy as ‘n mede Suid-Afrikaner – nogal in die buiteland! – ons regering op die
mees onpatriotiese wyse sleg gemaak het.

Ek het toe al vir jou gesê dat jy jouself behoort te skaam, maar ek het terug gehou om jou voluit aan te vat, want die herinnering was nog daar van Vrye Weekblad se opposisie teen apartheid.

Sedertdien het my verdraagsaamheid teenoor jou egter heeltemal verdwyn in die aangesig van jou skaamtelose selfdienende opportunisme om jou bietjie afgewaterde apartheid teenstand ten hemele op te blaas vir redaksionele posisies by die SAUK en om jou pap,
middelmatige, journalistieke pogings en boekies te bevorder.

Dit verbaas my altyd hoe verdraagsaam ons Suid Afrikaners is met sulke opportunisme, en hoe vêr skurminkels soos jy kan kom met dikvelligheid. Gelukkig sien ons jou uiteindelik nou wel vir die duin-mol boereskelm wat jy nog maar altyd was.

Sovêr dit my aangaan is enige goeie wil vanaf my teenoor jou bokveld toe. Jy is niks anders as ‘n hanskakie nie, wat jou siel verkoop het aan die geldmag rooinekke van London, Washington en Brussels.

Jou boere vryheidsvegter voorvaders, na wie jy altyd so graag verwys, wat in die Eerste en Tweede Vryheidsoorloë teen die Engelse kolonialiste geveg het, draai sekerlik in hul grafte om, elke keer wat jy so slaafs vir Stephen Kossef en sy mede neo-imperialiste napraat. Selfs tot by die verraderlike laagtepunt om die afpersery goed te praat van die graderingsagentskappye Moody, Standard & Poor’s en Fitch, dat as ons nie hulle neo-
liberale privatiseringsvoorskrifte uitvoer nie, ons afgegradeer sal word tot by rommel status en dat ons dan aan die genade van die Internasionale Monitêre Fonds (IMF) uitgelewer sal wees. Sies, jy is ‘n bleddie hensopper! Jy behoort jouself dood te skaam!

Dit alles gesê, Max, het ek nuus vir jou: Jy verstaan die ANC glad nie. Die ANC is sedert 1912, histories en in terme van die spesiale plek wat ons Bevryding Beweging het in die harte van die meerderheid van swart Suid-Afrikaners, veral Africans, altyd veel meer as enige individuele persoon – ongeag die belangrikheid van die posisie van enige sodanige leier. Soos Madiba altyd gesê het: “Die ANC maak ons, ons maak nie die ANC nie”.

Indien jy en jou mede-trawante, soos Stephen Kossef en Colin Coleman et al, dink dat julle die ANC kan kaap deur vir President Ramaphosa te probeer koop en kaap, wag daar ‘n groot ontnugtering op julle. Soos ek die ander dag aan Stephen Kossef op Twitter getwiet het: “Ons in die ANC sal President Ramaphosa beskerm teen die voorskriftelikheid van jou Wit Monopolistiese arrogansie!”.

President Ramaphosa is die President van die ANC, en sy verkose taak is om die
beleidsbesluite van die ANC se 54ste Nasionale Konferensie uit te voer. Ons gaan seker maak dat hy as leier van ons ANC-kollektief dit wel sal kan doen, en ons is sonder twyfel seker dat hy dit sal doen.

Vergeet maar van die hersenskim wat jy klaarblyklik vertroetel dat ons Sekretaris
Generaal, kameraad Ace Magashule, of ons wat Radikale Ekonomiese Transformasie
(RET) voorstaan, deur onwettige manipulasie van ons land se regstelsel verwyder sal kan word, en in die tronk gestop gaan word. Ons is die kern van die ANC, soos die Nederlanders altyd sê: “[Ons is ANC] in merg en niere” (ek weet nie of jy dit nog onthou nie, maar ek het hierdie gesegde daardie dag by die Universiteit van Groningen vir jou aangehaal, toe jy ons in die ANC daar so probeer slegsê het).

Anders as die afgewaterde bleek verraaiersbloed wat in jou are vloei, is ons bloed swart, groen en goud!

Laastens, jou naam sal nie Max du Preez wees, as jy nie teen wil en dank sal probeer om my terug aan te val met ‘n opgrawery van al die ou holrug geryde stories van jare gelede dat ek skuldig bevind is aan ‘bedrog’. Of jy nou daarvan hou of nie, ou Max – ek gaan jou so noem, want ons albei is nie meer vandag se kinders nie – maar ek is nooit van bedrog aangekla nie, of in enige hof skuldig bevind van enige iets anders as Hoogverraad omdat ek ‘n lid van die ANC en van Umkhonto we Sizwe (MK) was nie. In my sestig jaar van lewe het ek – soos almal van ons – foute gemaak, maar anders as jy weet ek presies waarvoor
ek staan en ek sal nooit my bevrydingsideale en my land uitverkoop nie.

Nog minder sal ek my land se Grondwet en regstelsel probeer verkrag om buitelandse geldmagte gelukkig te hou.

Ek weet wie ek is en ek voel rêrig vere vir wat jy oor my te sê het. Kortom: Jou moer Max!